Aristoteles Vier Elemente

Aristoteles Vier Elemente

Tuesday 11 October 2011

'n Probleem is Slegs 'n Uitdaging

Ek is 'n omgewingswetenskap student van die NWU, Potchefstroomkampus. Ek voel sterk oor die toekoms van ons land en hoe ons, die mense, by verre die grootste rol speel by die vorming daarvan.  In die hart van alle bedrywighede (ekonomies, polities, sosiologies en biologies) staan die omgewing. Ons hoor elke dag van suur mynwater, alg opbloeie as gevolg van riool storting en ander besoedelingsbronne, wanbestuur van water en waterterkorte, brutale slagting van renosters agter  hul horings aan, landbou wat 'n al kleiner prioriteit vir die regering word en natuurlik die grootste besprekingspunt, klimaatsverandering.

Hoe het ons tot by hierdie punt gekom waar die omgewing moet lei as gevolg van ons gierige en gulsige smagting na rykdom? Het ons, as 'aardsbeskermers' ons sin verantwoordelikheid iewers verloor, of kies ons om dit te vermy?

My plantkunde dosent sê gereeld dat ons die huidige omgewingsprobleme vir onsself en onsself alleen skep, want die aarde is 4.6 biljoen jaar oud en het al herstel van vele omgewingsrampe in sy geskiedenis.  Hy sal dus vir seker binne 100 000 jaar na die mens (gestel ons sterf uit vir een of ander rede) homself herstel.

Dis amper dieselfde effek as om van Pretoria af Kaap toe te ry met jou motor en te besef dat die brandstof iewers langs die pad sal klaar word, jy kies net om met daardie probleem af te reken wanneer dit homself voordoen.  Want jy het mos geld bymekaar vir dit en daar is mos vulstasies oral langs die pad.  Die probleem met die omgewing is dat geld dit nie gaan regmaak nie en daar is geen vinnige oplossing wanneer daar eers 'n probleem is nie.

Hoe gemaak dan?  Wel, dis hoekom die Ingelsman altyd sê "prevention is better than cure."  Ons moet intelligent beplan voor ons myne oprig, voor ons kantoorblokke bou, voor ons grond verwerk vir landbou of bosboudoeleindes, voor ons paaie bou en selfs voor ons huise bou.  Dit vereis 'n totaal nuwe benadering - die van omgewingsbewustheid.  Op skool word leerders nie geleer hoe om elementêre omgewingsbeplanning te doen nie - en volwassenes betree die sakewêreld sonder enige kennis van die omgewing omdat "daar mos mense is wat die tipe van dinge doen."

Slegte nuus:  Al spesialis omgewingswetenskaplikes in die diens van die staat sal binne die volgende 4 jaar aftree ouderdom bereik.  Ek beywer my (saam met my mede-studente, natuurlik) om die nuwe generasie omgewingswetenskaplikes te wees - met 'n moderne opvatting en benadering.

So, hierdie blog sal verskillende kwessies (op hul beurt) aanraak soos ek dit iewers raaklees of daarmee te doen kry in my studies.  Ek beoog ook om 'n potgooi ('podcast') te begin wat sal fokus op hierdie kwessies.

Gaan groen of gaan huistoe!

Natura Africana

No comments:

Post a Comment